Wilro maak geskiedenis

Motorsport
Wilro Dippenaar en sy navigator, Carolyn Swan, was slegs by die 2024 M&Z Motors Tara-tydren in aksie wat hy in sy S4-klas PZN Ford Fiesta R5 gewen het.
Tielman Van Lill
Wilro Dippenaar het in 2024 die eerste Namibiër geword wat 'n nasionale tydrenkampioenskap in Suid-Afrika gewen het.

Weens sy verpligtinge by die nasionale Rally Raid Off Road North-kampioenskap in Suid-Afrika, het dié gewilde Namibiese tydrenpersoonlikheid nie vanjaar aan die plaaslike nasionale tydrenkampioenskap deelgeneem nie.

Wilro en sy navigator, Carolyn Swan, was slegs by die 2024 M&Z Motors Tara-tydren in aksie wat hy in sy S4-klas PZN Ford Fiesta R5 gewen het.

Hy het vroeër in 2024 aan Sport Wrap verduidelik: “Ek gaan vanjaar voltyds in Suid-Afrika jaag. Daarom sal ek nie in Namibië in aksie kan wees nie. As ek aan beide kompetisies moet deelneem, sal ek byna nooit by die huis wees nie.”

Die Rally Raid Off Road North-kampioenskap was oor ses rondes beslis waar spanne in tien klasse kon jaag. Wilro en Carolyn het met sy PZN Panelbeaters V8-Toyota Hilux hul stempel in die topkompetisie van die Federation Internationale de l'Automobile (FIA) se afdeling vir spesiaal geboude voertuie afgedruk.

Met die sesde en finale ronde van die kampioenskap was Wilro en Carolyn met 163 punte voor op die punteleer. Maar dit het nie beteken die duo kan net opdaag en die titel opeis nie.

Temperature van 40 grade Celsius en meer het oorverhittingby by sy V8-Hilux veroorsaak. Tydens die tweede rondte van die dag moes Wilro die PZN Panelbeaters V8-Hilux versigtig deur sy passies sit om die tydren te kan voltooi.

Met sy ondervinding en koelkop het Wilro die Hilux versigtig tot by die einstreep in 3 ure 36 minute 2 sekondes vir die algehele derde posisie vertroetel. Al het Eugene Bierman (Century Racing CR6) dié sesde ronde in 3:33:29 gewen, was die nasionale titel veilig in die sakkie vir die haastige Namibiër.

Hul mededingers het hulle met monsters aangedurf soos die V8-Century Racing CR6, V8-Ford Ranger, V8-VW Amarok, Red-Lined VK56 V8-Nissan Navara, V8-BAT en nuwe Red-Lined Revo Nissan GTR. Die inskrywings in dié afdeling was gemiddeld 15. Dus was die mededinging uiters straf.

Weens meganiese probleme kon Wilro nie die Potch Plastics 300-byeenkoms voltooi nie, maar het wel ses punte verdien. Hy het al vyf die ander suksesvol afgelê. By die Stella 300 was hy eerste (30 punte), Baberspan 300 vyfde (34), Twinstar 500 tweede (62), Penta 300 eerste (41) en Kameel 300 derde.

Die kampioenskap het op 10 Februarie met die 2024 Stella 300 (300 km) in die Noordwes-provinsie in bloedige hitte weggespring.

Die ander byeenkomste het so gevolg: Op 9 Maart die 2024 Westfert Barberspan 300, Noordwes-provinsie, op 11 Mei die 2024 Potch Plastics 300, Noordwes-provinsie, op 26 en 27 Julie die 2024 Twinstar Precast 500, Vrystaat-provinsie, op 31 Augustus die Penta 300, Limpopo-provinsie en op 26 Oktober, die 2024 Speedy 4x4 Kameel 300, Noordwes-provinsie.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2025-01-06

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 19° | 27° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 28° Ruacana: 19° | 32° Tsumeb: 19° | 28° Otjiwarongo: 19° | 28° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 17° | 19° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 20° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 22° | 33° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 22° Maseru: 16° | 25° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 30° Maputo: 23° | 30° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 17° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 21° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!