• Home
  • Sport
  • Wanderers wen premierliga met Smit (87*) prominent
APS Wanderers se eerste span wat Krieket Namibië se premierliga vir eendagkrieket gewen het, saam met die twee skeidsregters in die finaal, Ewoud Lassen (links agter) en Claus Schumacher (regs agter). Die agterste ry is Waldo Smith, Karl Birkenstock, Nyasha Nyashadzaishe, Gerhard Lötter (afrigter), Lo-han Louwrens, JJ Smit, Niko Davin en Jan-Izak de Villiers. Voor is Steven Delport (twaalfdeman), PD Blignaut, Bernard Scholtz, Tiaan van der Merwe en Michau du Preez (kaptein en paaltjiewagter). Foto Krieket Namibië
APS Wanderers se eerste span wat Krieket Namibië se premierliga vir eendagkrieket gewen het, saam met die twee skeidsregters in die finaal, Ewoud Lassen (links agter) en Claus Schumacher (regs agter). Die agterste ry is Waldo Smith, Karl Birkenstock, Nyasha Nyashadzaishe, Gerhard Lötter (afrigter), Lo-han Louwrens, JJ Smit, Niko Davin en Jan-Izak de Villiers. Voor is Steven Delport (twaalfdeman), PD Blignaut, Bernard Scholtz, Tiaan van der Merwe en Michau du Preez (kaptein en paaltjiewagter). Foto Krieket Namibië

Wanderers wen premierliga met Smit (87*) prominent

Krieket
In 'n stadium het CCD Tigers die heersende titelhouer in 'n kwesbare posisie gehad, maar agt sesse van JJ Smit het sake totaal verander.
Andrew Poolman
Die breë kolf van JJ Smit het ‘n ommeswaai teweeg gebring toe APS Wanderers die eindstryd van Krieket Namibië se 50-boulbeurt premierliga Sondag beklink het.

Danksy Wanderers se oorwinning met vyf paaltjies teen CCD Tigers behou die rooies die titel wat hulle die vorige seisoen ook ingepalm het.

Die wedstryd is tot 43 boulbeurte per span verkort nadat nattigheid op die United-veld se kolfblad die aanvang van spel vertraag het. Wanderers se kaptein Michau du Preez het die loot gewen en gekies dat die Tigers eerste moes kolf.

Wanderers se aanvangsbouler Nyasha Nyashadzaishe het die eerste twee deurbrake gemaak deur Joshuan Julius (19 lopies) en Simon Shikongo (5) met CCD se tellings op 26 en 34 deur paaltjiewagter Du Preez te laat uitvang.

Du Preez het opnuut raakgevat om CCD se ander aanvangskolwer Ramon Wilmot vir ‘n geduldige 12 lopies van 36 balle sonder ‘n grenshou terug te stuur (52/3 ná 17 bb).

Nicol Loftie-Eaton het ‘n kapteinsbeurt vir die Tigers gespeel (71 van 79 balle, ses viere, twee sesse) en sy vennootskap met Jaden Cloete (30 van 55 balle) het die telling tot 117/4 ná 33.2 boulbeurte gevoer.

Met die byvoeging van Helao ya France (12) en Ben Shikongo (10 nie uit nie) en elf wydlopers het CCD se kolfbeurt op 178 vir agt tot ‘n einde gekom.

Wanderers se boulaanslag is soos gebruiklik deur die akkurate linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz met drie paaltjies vir 27 in nege boulbeurte gelei. Die naatbouler Jan-Izak de Villiers was besonder ekonomies (2.22 per boulbeurt) in sy skof van nege boulbeurte wat net 1/20 gekos het. Die deurbrake van Nyashadzaishe (2/36 in 9) en Karl Birkenstock (2/37 in 8) het ook Tigers se vordering gehelp stuit.

CCD Tigers het binne die eerste twee balle hoop gekry toe naatbouler Ben Shikongo ‘n vangkans vir Salomon Nuuyoma geskep het om Lo-han Louwrens vir ‘n nulletjie uit te haal.

Shikongo se indrukwekkende boulvertoning het ook die volgende drie Wanderers-paaltjies laat val, naamlik nommer drie Tiaan van der Merwe (geboul vir 9), die aanvallende aanvangskolwer Niko Davin (gevang Simon Shikongo, vir 33 van 18 balle, twee viere, drie sesse) en Nyashadzaishe (b.v.p vir 6), wat die verdedigende titelhouer op 54/4 ná 9 boulbeurte senuweeagtig sou gemaaak het.

JJ Smit het egter volgende op nommer vyf ingestap en was uiteindelik onoorwonne met 86 nie uit nie van 76 balle, nadat hy met agt sesse en twee viere gewys het wie is baas. Ter ondersteuning van sy aanvallende rol het Jan-Izak de Villiers (27 van 31 balle, 2x4 1x6) en Michau du Preez (10 nie uit nie van 32 balle sonder ‘n grenshou) ook bygedra dat die wenlopies aan die einde van die 31ste boulbeurt aangeteken is (kolftempo 5.8).

As speler van die wedstryd het Smit sy vyftigtal van 49 balle aangeteken. Hy het veral onder die draaiboulwerk van Donovan Zealand (0/37 in 3 bb; ekon. 12.33) ingeklim. Zealand se boulbeurte het onderskeidelik een, 14 en 22 lopies gekos, toe Smit die wedstryd met drie opeenvolgende sesse afgesluit het.

Nicol Loftie-Eaton (1/35 in 9) en Junior Kariata (0/15 in 4) het die beste ondersteuning gebied vir Ben Shikongo as hul gevaarlikste bouler met 4/50 in nege boulbeurte.

Comments

Namibian Sun 2025-03-14

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment