• Home
  • Sport
  • Napso se Blits 7’s stel hoë standaard

Napso se Blits 7’s stel hoë standaard

Skolesport
Hoë verwagtinge word vir die komende nasionale ligaseisoen gekoester.
Annemarie du Toit
Die bane en velde van Windhoek Afrikaanse Privaatskool het gegons met energie toe drie spansporte van die Namibiese Privaatskole-organisasie van oor die hele land mekaar vir die Napso Nammed Blitz 7’s ontmoet het.

In sewesrugby (o.11 tot o.19), netbal (o.12 tot o.19) en hokkie (o.13 en o.19) was daar wenners, medaljes en puntelyste – maar dit was die mense, die oomblikke en die gees wat die toernooi werklik besonders gemaak het. Deur die bank word hoë verwagtinge vir die komende nasionale ligaseisoen gekoester.



Netbal: Elke wedstryd kompeterend

Op die netbalbaan in die binnenshuise saal het die tekkies behoorlik die vonke laat spat. WAP het baie goed presteer met eerste plekke in elke ouderdomsgroep, maar dit beteken geensins dit was maklik nie. Spanne van Walvisbaai PS, Pro-Ed Akademie, Keetmanshoop Privaatskool en Tsumeb Gimnasium het gewys hulle kom nie net om te speel nie. Daar is hard verdedig, baie gedoel, en aan die einde was daar trots – ongeag waar die skole geëindig het.

In die o.19-eindstryd het WAP met 19-14 teen Tsumeb Gimnasium gewen.



Sewesrugby: Fisiek, vasberade, vol vuur

WAP het in die jonger ouderdomsgroepe die septer geswaai, maar by die o.19’s was daar nie keer aan Pro-Ed Akademie nie.

Pro-Ed het die o.19-finaal teen ‘n ewe hardekwas Elnatan-span net-net met 14-12 beklink.

WAP se wentelling in die o.13-eindstryd was 34-0 teen Laerskool Walvisbaai. WAP se o.11’s het met 14-11 teen Moria die knoop deurgehaak, terwyl WAP Blou in die o.15-finaal met 37-0 die krane oopgedraain het teen hul skoolmaats WAP Geel.

Elkeen van die betrooke skole het met tye aanskoulike sewesrugby gespeel. Dit was duidelik: dié jong spelers verstaan wat dit beteken soos een man te speel.



Hokkie: akkuraatheid en spanwerk

WAP het ook in die o.19 hokkie-afdelings bo uitgekom, maar Pro-Ed en Walvisbaai het hul plek in die topdrie met goeie, gedissiplineerde spel verdien.

Ludwig van Rooyen se Affies o.19-seuns was in hul eindstryd teen Walvisbaai PS met 0-2 agter, voor hulle vasgetrap en die uitslag met 3-2 beklink het. Pro-Ed het die bronsfinaal teen Privaatskool Swakopmund met 4-0 beklink.

In die o.19-meisies se eindstryd het WAP ‘n uitskietstryd nodig gehad voordat hulle met 1-0 verby Pro-Ed kon kom.

‘n Mens kon sien al die spanne werk hard om deurgaans te verbeter en in die komende seisoen hul stem dik te maak.



Twee dae se impak leef voort

Daar was nie net trofeë op die spel nie, maar herinneringe. Die Napso NamMed Blits 7’s het gewys dat skolesport lewendig en vol hoop is in Namibië en dat iets besonders gebeur wanneer jong mense met passie en trots hul skoolspan se trui aantrek.

Comments

Namibian Sun 2025-04-19

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment