• Home
  • Sport
  • Kanada se eerste taak vandag teen Nederland

Kanada se eerste taak vandag teen Nederland

Krieket
Andrew Poolman
‘n Driehoekige kriekettoernooi van uiterste belang begin vandag by die Wanderers-veld in Windhoek, waar die Namibiese breinstrust soveel moontlik ontledende aandag aan die botsing tussen Kanada en Nederland sal wil gee.

Kanada (derde), Nederland (vierde) en Namibië se Richelieu Eagles (sesde) is in ‘n taai wedloop van agt lande in die ICC Wêreldkrieketbeker Liga 2-reeks (2024-2027) gewikkel.

Kanada was sover baie indrukwekkend met agt oorwinnings in 12 wedstryde, terwyl Nederland hom ook met sewe oorwinnings uit 12 laat geld het. Die verwagtinge van die Eagles sou egter in hierdie stadium hoër wees as die ses wedstryde uit 16 wat hulle sover kon wen.

Die Namibiërs onder kapteinskap van Gerhard Erasmus begin hul aanslag Vrydag teen Nederland, gevolg deur hul botsing teen Kanada Sondag.

Met hul algehele voorste lopiemaker in die reeks, Michael van Lingen, steeds afwesig ten gunste van sy werkloopbaan, het die Namibiese afrigter Pierre de Bruyn vir Niko Davin teruggeroep om hopelik die Eagles se onlangse middelmatige vertonings vroeg in hul kolfbeurt te help hokslaan.

Die drie spelersgroepe:

Nederland: Scott Edwards (kaptein en paaltjiewagter), Colin Ackermann, Noah Croes, Bas de Leede, Aryan Dutt, Vivian Kingma, Fred Klaassen, Kyle Klein, Michael Levitt, Zach Lion-Cachet, Teja Nidamanuru, Max O’Dowd, Vikramjit Singh, Timm van der Gugten, Paul van Meekeren.

Kanada: Saad Bin Zafar (kaptein), Nicholas Kirton, Aaron Johson, Navneet Dhaliwal, Pargat Singh, Harsh Thaker, Shreyas Movva, Akhil Kumar, Parveen Kumar, Shahid Ahmadzai, Dilon Heyliger, Jatinderpal Matharu, Dilpreet Singh Bajwa, Kanwarpal Tathgur, Yuvraj Samra, Ajayveer Hundel.

Namibië Richelieu Eagles: Gerhard Erasmus (kaptein), JJ Smit (onderkaptein), Niko Davin, Jan-Izak de Villiers, Shaun Fouché, Jan Frylinck, Zane Green (paaltjiewagter), JP Kotzé, Malan Kruger, Dylan Leicher, Nicol Loftie-Eaton, Tangeni Lungameni, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, Ruben Trumpelmann en Jack Brassell (reserwe).

Spel by die Wanderers begin daagliks om 09:30.

Comments

Namibian Sun 2025-03-16

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment