Veediefstal onder die regsloep
Oeroue misdaad
Adv. Peet Harmse – Met die ongekende vlae van vee- en wilddiefstalle wat boere deesdae so teister, moet gekyk word na veediefstal soos beskou in ons gemene reg en statutêre reg (wettereg) van vandag.
Ons gemene reg (“common law”) het ook veediefstal geken en dit swaar gestraf. Veediefstal is net so oud soos die diefstal van geld en ander goedere. Reeds in die Bybel vind ons verwysings na veediefstal en veediewe waar in Eksodus 20 vers 17 die Tiende gebod bepaal dat jy nie jou naaste se os of sy esel mag begeer nie. In Johannes 10 vers 1 sê Christus dat ’n persoon wat nie by die deur van ’n skaapstal ingaan nie, maar van die ander kant af inklim, ’n dief en ’n rower is.
Een van die eerste opgetekende gevalle van veediefstal in die Romeinse reg vind ons in die verhaal van Cacus, die half-mens, wat agt beeste gesteel het en dit aan hulle sterte in die grot ingesleep het. Vir iemand wat na hulle soek sou geen spore na die grot wys nie – slegs spore wat weglei van die grot af. Hercules het Cacus doodgemaak en die beeste bevry. Die Romeine het ’n veedief “abigeus” genoem, afgelei van die werkwoord “abigere”, wat beteken om weg te dryf – veediewe was dus persone wat vee uit die weivelde of kuddes verwyder en dus as sodanig steel.
In die Romeins-Hollandse reg het artikel 12 van die Placaet van de Staten van Holland van 16 Desember bepaal dat iemand wat een of meer van ’n ander se beeste, perde, rendiere, skape of varke weggedryf het, geslag of gesteel het, met die dood gestraf is. Hulle goed is ook gekonfiskeer en verbeurd verklaar. Hierdie bepalings is later van toepassing gemaak op die steel van ploeë en waens – wat heel sin gemaak het, want ’n ploeg kon nie gebruik word as die osse gesteel is nie, netso kon die lande nie geploeg word as die ploeë gesteel is nie.
Dit was ’n billike en algemene reëling in die gemene reg dat wanneer misdrywe toegeneem het (soos vandag ten opsigte van vee- en wilddiefstalle), dat strawwe ook verskerp is. Dit was ook ’n ernstiger oortreding om vee te steel wat in die veld is, as vee wat in stalle is. Vee in stalle kan beter beskerm word en om hulle te verwyder, is moeiliker as vee wat in die weiveld is.
Sover dit die wettereg betref, is die Wet op Veediefstal, 1990 (Wet No. 12 van 1990) die geldende Namibiese wet wat wetsbepalings met betrekking tot diefstal van vee en produkte van vee konsolideer en wysig. Wetsbepalings oor veediefstal in die vroeëre Britse kolonies van Suid-Afrika, die Unie en later Republiek van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika, en veral strafbepalings daaroor, het die vraag laat ontstaan of veediefstal deur wetgewing tot ’n statutêre misdryf verklaar is, en of dit die gemeenregtelik misdaad diefstal bly.
Alhoewel in een hofsaak die indruk geskep is dat veediefstal ’n statutêre misdaad is, blyk dit baie duidelik uit beslissings van latere howe, asook die Suid-Afrikaanse appélhof, dat:
- Veediefstal die misdaad diefstal van vee is.
- ’n Klag van veediefstal nie ingevolge ’n wet gelê word nie, maar ingevolge die gemene reg, en net bereg word ooreenkomstig die voorskrifte van bepaalde wetgewing.
- Veediefstalwetgewing geensins die diefstal van vee van bepaalde persone verander en anders maak as die gemeenregtelike diefstal van vee nie – dit skep dus nie ’n nuwe misdaad nie.
- Veediefstalwetgewing slegs nuwe prosedures skep rakende die straf van veediefstal, bykomende strawwe en verhoogde jurisdiksie van howe in elke geval van veediefstal waarin ’n sekere feitlike element aanwesig is, naamlik waar dit wat gesteel is, vee of produkte van vee is. – [email protected]
* Advokaat Peet Harmse van Harmse Legal Practitioners in Okahandja bespreek en ontleed wetlike bepalings en verwante onderwerpe in Agri Monitor soos relevant vir Namibiese boere en die boerderybedryf. Weens beperkte spasie kan die kwessies onder bespreking nie in besonderhede behandel word nie. Daar sal gepoog word om die beginsels van sekere bepalings te verduidelik. Harmse spesialiseer in die opstel, hersiening en interpretasie van wetgewing en word deur die Regsvereniging van Namibië gemagtig en gereguleer.

Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article