Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sekretariaat sê dit maak stelselmatig vordering in die implementering van die SADC-toerismeprogram vir 2020 tot 2030. FOTO PIXABAY
Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sekretariaat sê dit maak stelselmatig vordering in die implementering van die SADC-toerismeprogram vir 2020 tot 2030. FOTO PIXABAY

SADC werk aan univisa vir reisigers

Toerisme-ervaring moet verbeter word
SADC sê dit maak stelselmatig vordering in die implementering van die SADC-toerismeprogram vir 2020 tot 2030
Elvira Hattingh
Lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) streef om teen 2030 programme in plek te hê sodat toeriste met ’n enkele visa deur al die lidlande kan reis, terwyl groter samewerking vir toerisme tussen lande in Suider-Afrika moet geskied.

SADC se sekretariaat sê dit maak stelselmatig vordering in die implementering van die SADC-toerismeprogram vir 2020 tot 2030.

Die SADC-sekretariaat se senior programbeampte, Moreri Mabote, het die inligting tydens die Afrika Reisindaba in Durban op 10 Mei bekendgemaak.

Die toerismeprogram dien as ’n strategiese padkaart vir die ontwikkeling van ’n volhoubare toerismebedryf binne die SADC-streek. Fokus word geplaas om die hindernisse vir groei uit die weg te ruim, terwyl ekonomiese insluiting en transformasie bevorder word en vennootskappe met regerings gesluit moet word.

Vyf sleutel- en strategiese doelwitte vir die program, sluit in die aanmoediging van besoekers om binne die streek te reis, die streek se toerismereputasie te verbeter, die ontwikkeling van oorgrensgebiede vir toeriste, om besoekers se ervaringe te verbeter en toerisme-vennootskappe en samewerking te sluit.

“Die suksesvolle voltooiing van ons toerismeprogramme is noodsaaklik om ’n volhoubare en vooruitstrewende toerismebedryf in die streek te skep wat bydraes maak tot sosioëkonomiese ontwikkeling en die verbetering van ons vermoë om wêreldwyd mee te ding,” het Mabote gesê.

Hy het ook die sleutel-inisiatiewe met besoekers gedeel wat reeds voltooi is en nog aan gewerk word. Dit sluit in die skep van toerismewerksgroepe binne die streek, ’n visa of univisa wat beweging tussen lande in die streek sal vergemaklik, ’n platform vir die private sektor sodat hulle betrokkenheid verhoog kan word, asook ’n studie oor hoe toeganklik die streek is as dit by lugvaart kom.

Ander inisiatiewe sluit in die opleiding van immigrasiebeamptes by grense om beter kliëntediens te lewer, asook die ontwikkeling van bemarkings- en samewerkingsvideo’s vir toerisme.

Mabote sê SADC se lidlande het ’n behoefte aan drie werksgroepe geïdentifiseer, wat elk verteenwoordigers het van die openbare en private sektore asook die groter gemeenskap. Die plan is dat die werksgroepe ’n plek moet wees waar die SADC-streek kan kommunikeer en saamwerk om seker te maak toerismeprogramme word doeltreffend geïmplementeer.

Verder word daar ook beoog dat beleide en regulasies vir toerisme in harmonie met mekaar binne die SADC-streek moet wees.

“Deur die bevordering daarvan om beleide te standardiseer, kan ’n verenigde benadering tot toerisme verkry word, wat toeriste in staat sal stel om gemaklik oor lande heen te kan toer en dit sal ook help met groter samewerking tussen die verskillende grensposte,” het Mabote gesê.

Hy is van mening dat dit ook ’n bydra tot ekonomiese groei sal maak en besoekers se ervaring van die streek sal verbeter.

“Die SADC-univisa word gedryf deur vyf lidlande, naamlik Angola, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe. Daar word goeie vordering hiermee gemaak. Tans word voorstelle vir ’n wetsraamwerk hiervoor asook modelle waarvolgens inkomste gedeel kan word, deur lidlande opgestel,” het Mabote verduidelik.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-11-23

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!