Mens en dier steier onder die droogte en hittegolwe. Foto FAO Namibia
Mens en dier steier onder die droogte en hittegolwe. Foto FAO Namibia

Hittegolwe, droogte oorheers in 2024

Jongste klimaatverslag uitgereik
Die verslag fokus op die voortslepende droogte en nuwe maksimum temperatuurrekords.
Francoise Steynberg
Die jaar 2024 was die warmste op rekord en dit was die vierde agtereenvolgende droogtejaar vir die noordwestelike dele van die land.

Dit is volgens die Klimaatverslag 2024 van Namibië wat verlede week deur die Meteorologiese Diens in die vervoerdepartement in die ministerie van werke en vervoer uitgereik is.

“In ’n tyd waarin klimaatsverandering nie meer ’n mite is nie, maar ’n wêreldwye werklikheid, kan dit net deur internasionale pogings van aanpassing en veerkragtigheid getakel word,” het die uitvoerende direkteur, Esther Kaapanda, gesê.

“Die verslag fokus op die voortslepende droogte en nuwe maksimum temperatuurrekords.”

Sy sê klimaatsverandering is hier, ’n realiteit en verg optrede, veral rakende die sosioëkonomiese impak op die Namibiese samelewing.



TEMPERATUURREKORDS

Soos globale temperature voortdurend styg, het die internasionale klimaatgemeenskap ’n konsensus bereik dat die globale gemiddelde temperatuur gedurende 2024 die warmste was.

Verskeie groepe het aangedui dat globale temperature in 2024 vir die eerste keer die onderste perk van die Parys-ooreenkoms van 1,5 °C oorskry het bo die pre-industriële basislyn (1850 tot 1900).

Volgens die verslag het die hittegolftoestande wat vroeg in 2024 ervaar is, nie net nuwe maksimum temperatuurrekords opgestel nie, maar is oor ’n langer tydperk as gewoonlik gehandhaaf.

“Gedurende Februarie het Katima Mulilo met temperatuurrekordhouding wat in 2004 begin het, ’n nuwe maksimum temperatuurrekord vir die maand op 40 °C opgestel en 13 opeenvolgende dae wat 37 °C oorskry het, terwyl Ondangwa vir die eerste keer 40 °C vir die maand oortref het met ’n nuwe rekord van 40,7 °C.

“Gobabis in die Omahekestreek het vir die eerste keer sedert 1989 40 °C oorskry en ’n nuwe maksimum temperatuurrekord vir Februarie op 41,6 °C opgestel met 21 ononderbroke dae wat 37 °C oorskry het,” lui die verslag.



2019 WAS WARMSTE JAAR

Op grond van beskikbare rekords was 2024 Namibië se tweede warmste jaar met ’n gemiddelde temperatuur van 22,6 °C, 1,3 °C hoër as die 1991-2020-gemiddelde.

Daarom bly 2019 volgens die verslag die warmste jaar met 1,4 °C hoër as die 1991-2020-gemiddelde.

“Verder het Februarie, Maart, Mei, Augustus en Desember nuwe individuele maandelikse rekords opgestel op onderskeidelik 2,2 °C, 2,8 °C, 2,1 °C, 1,4 °C en 1,9 °C hoër as die 1991-2020-gemiddelde.”

Hierdie statistieke is gebaseer op 32 weerstasies wat oraloor die land is en kan effens verskil van globale klimaatdatastelsels.

“El Niño was aktief gedurende die eerste deel van die jaar, dus kan ’n deel van die verwarming aan El Niño toegeskryf word tesame met mensgemaakte faktore.

“La Niña-toestande het eers in Desember 2024 ontstaan, daarom blyk dit dat die verwarming teen die einde van die jaar hoofsaaklik deur interjaarlikse wisselvalligheid veroorsaak word,” lui die verslag.



REëNVAL

Vir hierdie verslag word die reënvalperiode vanaf Januarie tot Desember 2024 gemeet, en volg die tipiese klimatologie van die land wat wissel tussen 0 mm tot bo 700 mm van wes na noordoos.

“Die meeste van die land het droër as normale toestande ervaar, veral in die Suide en noordwestelike helfte van die land. Dit is die tweede opeenvolgende droogtejaar in die 13 jaar wat by sommige weerstasies ontleed is en meer as vier agtereenvolgende jare van ondergemiddelde reënval vir die noordwestelike deel van Namibië,” lui die verslag.

“Die hoogste reënvalsyfers is gerapporteer uit die noordoostelike streke wat die langtermyngemiddeldes van 1991 tot 2020 oorskry van sommige stasies soos Okalongo (676,5 mm), Otavi (621 mm), Omauni (565,5 mm) en Ndiyona (558,6 mm).



HITTE-AKSIEPLAN

Die regering van Namibië het in Mei 2024 ’n noodtoestand afgekondig weens die droogte wat deur El Niño veroorsaak is nadat die 2023-’24-reënvalseisoen in April geëindig het.

“Dit het ’n negatiewe impak gehad op voedselsekerheid (nasionale graanproduksie is na raming 53% laer as die vorige jaar se produksie ), lewensbestaan, swak weiding en watertekorte met die damvlakke op gemiddeld 55% teen Maart 2024,” lui die verslag.

“Die kwesbaarheidsbepaling en -ontleding wat deur die kantoor van die eerste minister gedoen is, dui aan dat 1,26 miljoen mense (of 41,5% van die bevolking) in noodsituasies is, gebaseer op die geïntegreerde faseklassifikasie vir voedselsekerheid. Die regering se droogtehulp-ingrypingsbegroting word op N$1,3 miljard geraam – sonder eksterne hulp.”

Volgens die verslag blyk dit hittegolftoestande het ’n groot negatiewe impak op gewasproduksie, verdampingstempo’s en algemene produktiwiteit van werkers. Dit sluit nie net informele werkers in nie, maar diegene in swak geventileerde kantooromgewings, veral hul welstand en lewensbestaan.

“Aangesien waarnemings nuwe rekordtemperature toon en vooruitsigte wat op stygende temperature dui, is dit dalk tyd vir die bekendstelling van hitte-aksieplanne in Namibië om mense se welstand en lewensbestaan te beskerm,” beveel die verslag aan.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2025-02-05

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 30° Oshakati: 21° | 30° Ruacana: 19° | 27° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 18° | 32° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 29° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 18° | 22° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 14:54, High tide: 08:30, Low Tide: 02:00, High tide: 21:12 Swakopmund: 18° | 18° Wind speed: 22km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:28, Low Tide: 02:00, High tide: 21:10 Walvis Bay: 18° | 23° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:27, Low Tide: 02:00, High tide: 21:09 Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 20° | 33° Aranos: 23° | 34° Lüderitz: 17° | 32° Ariamsvlei: 22° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 35° Lubumbashi: 17° | 18° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 16° | 23° Antananarivo: 18° | 22° Lilongwe: 17° | 28° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 19° | 29° Cape Town: 17° | 23° Durban: 20° | 23° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 30° #VALUE! #VALUE!