Coetzees is as topveeprodusente bekroon

Okahandja-boere kraai koning
Francoise Steynberg
Streicher en Hella Coetzee is as die Veeprodusent van die Jaar van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) tydens die gala-aand van die Namibië Landbou-unie (NLU) aangewys.

Dié Bonsmaratelers van Hochfeld het ’n Toyota Hilux-enkelkajuit 2.4 GD-6 4x4 Raider 6MT gewen, moontlik gemaak deur Toyota SA en Pupkewitz Toyota, asook N$30 000 kontant, geborg deur Feedmaster.

Die naaswenners is Simbratelers Diethelm en Katja Metzger wat N$15 000 kontant, geborg deur Sinclair Services, gewen het. Hendrik en Priska Botha is in die derde plek en stap weg met ’n koopbewys van SWAVET Animal Health ter waarde van N$8 000.

Al drie die finaliste en die Landbouvrou van die Jaar is van die Okahandja-distrik. Annette Kotze is reeds nege jaar die sekretaresse van die Okahandja Boerevereniging (BV).

Sy organiseer geldinsamelingsprojekte om die polisiekantoor te restoureer, die BV se saal op te gradeer en vir veeartsenydienste ’n fotostaatmasjien te koop. Sy is nou betrokke by misdaadvoorkoming en monitor Nasa se brandwaarskuwingstelsel vir brandvoorkoming.

Annette is passievol oor die opleiding van plaaswerkers en hul vroue en sy het reeds verskeie kursusse aangebied. Bo en behalwe haar bestuursrolle in die gemeenskap, bestuur Annette haar eie boerdery en is betrokke by die jagplaas. Sy het ook haar eie byeboerdery, wat volgens beplanning volgende jaar groot genoeg behoort te wees om haar produkte kommersieel te verkoop. Sy wen ’n prys van N$10 000, geborg deur Old Mutual Namibia.

Helmeringhausen Boerevereniging is die wenners van die Gemeenskapsprojek vir 2024.

Die Dexter-beesprojek is ’n innoverende en gemeenskapsgerigte boerderyprojek wat daarop gemik is om kleinskaalse boere in die streek te ondersteun. Die projek, wat deur die voorsitter Jörg Gaugler begin is, fokus op die bevordering van selfvoorsiening deur veeboerdery, veral vir diegene wat nie die ledegeld vir die BV en NLU kan bekostig nie.

Deur die verkoop van Dexter-bulkalwers bied die projek ’n volhoubare bron van inkomste en opleiding vir minderbevoorregte gemeenskappe, wat uiteindelik die lewensomstandighede van die deelnemers sal verbeter. Hierdie inisiatief word as ’n uitstaande bydrae beskou, nie net in terme van die verbetering van armoedeverligting nie, maar ook as ’n kerninstrument in die opvoeding en opleiding van die plaaslike gemeenskap. Die projek het ’n toekenning van N$10 000 ontvang, wat deur Feedmaster geskenk is, om die inisiatief verder te bevorder.

Die Mediapersoonlikheid van die Jaar is Charl van Rooyen, ’n vryskutjoernalis van die Suid-Afrikaanse landboutydskrif, Landbouweekblad.

Comments

Namibian Sun 2024-11-17

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!