Bloeityd wink vir private uitvoerabattoirs
Lewendehawebedryf beleef positiewe ontwikkelings
Ondanks groot uitdagings in die bees- en skaapbedryf die afgelope jare, was daar ook positiewe ontwikkelings wat produsente opgewonde maak.
Landbouredaksie – Hoewel beesprodusente bekommerd verwikkelinge by Meatco dophou, is groot dinge by private uitvoerabattoirs aan die gebeur.
Terwyl Meatco se markaandeel daal en sy finansiële verlies van N$206,29 miljoen in die vorige boekjaar die grootste ooit was, is sy mededinger, Beefcor Meat Suppliers, besig om sy voetspoor in die Europese uitvoermark te vergroot.
Dié private uitvoerabattoir by Okahandja het nie net sy slagkapasiteit verdubbel nie, maar is voornemens om onder ‘n nuwe handelsmerk hoë gehalte beesvleis afkomstig uit sy voerkraal by Hochfeld, na Europese markte uit te voer. Dit is verlede maand deur die uitvoerende hoof van Beefcor, Jurgens Twyman, tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres in Windhoek bekend gemaak.
Beefcor verwag vanjaar ‘n deurset van 30 000 beeste – ‘n syfer wat hy voorsien teen 2024 sal verdubbel, het Twyman gesê.
Intussen rol die wiele om Savanna Beef Processors, beplande uitvoerabattoir van die Value Chain Forum (BVCF), teen April aanstaande jaar in bedryf te hê.
Mecki Schneider, voorsitter van die BVCF, het verduidelik Savanna sal aanvanklik die beeste wat bemark word, by die Brukarros-abattoir buite Keetmanshoop slag. Dit sal die operasionele reëling wees terwyl Savanna se wêreldklas-uitvoerabattoir en vleisverwerkingsaanleg op die plaas Teufelsschlucht buite Okahandja opgerig word.
Hy het by die LPO-kongres gesê die nuwe abattoir sal na verwagting in Oktober 2024 in gebruik geneem word.
Nog ‘n positiewe verwikkeling in die rooivleisuitvoerbedryf is die heropening van Farmers Meat Market se skaapuitvoerabattoir op Mariental deur Hartlief. Dit staan nou as die Mariental Abattoir bekend.
Volgens Günther Ling, besturende direkteur van Hartlief, is die heropening tesame met die streek- en internasionale sertifisering van die abattoir ‘n groot prestasie, nie net vir Hartlief en die O&L-groep nie, maar vir Namibiese kleinveeprodusente en die land in die algemeen.
Al die nodige oudits is reeds afgehandel en sodra die uitvoersertifikaat uitgereik word, kan verslagting volstoom afskop. Die abattoir hoop om vandeesmaand reeds sy eerste besending ontbeende lamsvleis na Noorweë uit te voer.
Namibië, Botswana en Eswatini (voorheen Swaziland) beskik saam oor ‘n jaarlikse kwota van 400 ton, maar laasgenoemde twee lande is nie tans in die posisie om daarheen uit te voer nie, het hy in sy voorlegging by die LPO-kongres verduidelik.
Ling sê die abattoir skep ‘n mark vir Namibiese skaapprodusente en bied ‘n geleentheid vir die land om sy kwaliteit lamsvleis na die internasionale mark uit te voer.
Deur die verkryging van uitvoerstatus is Mariental Abattoir in staat om munt te slaan uit die winsgewende, onontginde internasionale mark asook die Suider-Afrikaanse en die groter Afrika-mark.
Moontlike toekomstige markte vir die been-in uitvoer van skaapvleis is die VSA en Angola.
GROOT VRAAG NA NAMIBIESE GENETIKA
Intussen styg die vraag na goeie teelmateriaal vanuit buurlande, wat meebring dat die pryse van goeie kwaliteit teeldiere baie gestyg het.
Gert van Wyk van Namibia Livestock Auctioneers (NLA) op Mariental het aan kongresgangers gesê aanlyn veilings is hier om te bly.
Van verlede jaar af tot nou is 42 000 ooilammers op WhatsApp-groepe bemark. Dit het ‘n behoefte aan ‘n bykomende 1 800 ramme geskep, het hy gesê.
“Die feit dat die vryemarkstelsel in die kleinveebedryf toegepas word, sit meer geld in boere se sake.
Daar is ‘n geweldige klomp kopers in Zambië, Zimbabwe en Suid-Afrika. Die bedryf blom,” het hy oor die vraag na Namibiese genetika gesê.
“In die verlede het die voorste telers diere in Suid-Afrika gaan koop, maar dit is nie meer so nie. Ons verkoop nou die beste genetika in Namibië,” het Van Wyk gesê en bygevoeg die standaard van die diere wat opgeveil word verbeter elke jaar.
DRUPPEL IN DIE EMMER
Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), het produsente daaraan herinner dat hoewel positiewe dinge aan die gebeur is, die Namibiese lewendehawebedryf binne wêreldkonteks maar ‘n druppel in die emmer is.
Namibië verbruik ongeveer 15 000 ton beesvleis en 5 000 ton skaapvleis per jaar. Hierteenoor verbruik Suid-Afrika 740 000 ton beesvleis en 150 000 ton skaapvleis per jaar – dus 30 tot 50 keer méér as Namibië.
Verder is Namibië ‘n netto uitvoerder van rooivleis aangesien hy net 30% van sy produksie self kan verbruik. Daarteenoor verbruik Suid-Afrika 95% van die vleis wat sy boere produseer.
Namibië het in 2021 nagenoeg 5 500 ton beesvleis na markte in die Europese Unie (EU), Noorweë en China uitgevoer.
Sonder hierdie uitvoermarkte kan die Namibiese vleisbedryf nie voortbestaan en groei nie, het Venter gesê.
Hy sê beleidsekerheid, regverdige medediging tussen waardekettings, die handhawing van die land se hoë dieregesondheidstatus sodat hy mag uitvoer, verbeterde weiveld en hoër opbrengs per hektaar asook die herwinning van vertroue in die uitvoerwaardeketting is nodig om die vleisbedryf te laat groei.
– [email protected]

Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article