B2Gold-plaas ’n voorbeeld, sê Schlettwein

Produksiepraktyke kan in groenskemas gerepliseer word
Die landbouminister sê B2Gold dien as bewys dat Namibië selfvoorsienend kan wees, mits die regte landboupraktyke toegepas word.
Elvira Hattingh
Die B2Gold-plaas in die Otjozondjupastreek dien as ’n bewys dat dit moontlik is vir Namibië om selfvoorsienend in voedselproduksie te wees – mits die regte landboupraktyke toegepas word.

Só het die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, op Woensdag 22 November gesê met sy besoek aan die plaas, waar daar tans koring geoes word, met sowat 11 tot 12 ton wat per ha afgehaal word.

B2Gold oes tans rondom drie spilpunte – elk met sowat 15 ha se koring.

Schlettwein het verduidelik op die plaas word met ’n spesiale variëteit van koring geboer wat deur ’n eksperimenteringsproses ontdek is en wat dié groot oeste lewer. “As jy dit met die groenskemas vergelyk waar daar sowat vier ton koring per ha afgehaal word, is dit besonders.

“Dit bewys dat dit saak maak hoe jy die grond voorberei, hoe jy dit kunsmis gee, natmaak en dat die variëteit van die gewas wat jy gebruik belangrik is,” het Schlettwein gesê.

Hy het bygevoeg as Namibië op sy groenskemas – waar daar sowat 27 000 ha onder besproeiing beskikbaar is – dié soort oeste kon afhaal, sal die land baie naby daaraan wees om selfvoorsienend te word.

Hy het gesê selfs al kan net 10 ton per ha op die beskikbare 27 000 ha geoes word, word Namibië se behoefte aan sowat 150 000 ton koring per jaar selfs verbygesteek.

“Selfvoorsienendheid is moontlik as ons die regte landboupraktyke toepas; moderne praktyke waar jy dubbeld op dieselfde stuk grond oes – koring in die winter en mielies in die somer.

“Ek dink dit is doenbaar en ek is bly dat ons hier ’n voorbeeld kan sien van hoe dit behaal kan word,” het Schlettwein gesê.

Hy het bygevoeg ’n enkele spilpunt kan ’n hele familie onderhou. “Dit is weer eens ’n bewys dat ons, met behulp van landbou, families kan voed en hulle ook uit armoede kan lig,” het hy gesê.

Schlettwein se woordvoerder het gesê dit was vir die minister, wat verantwoordelik is vir Namibië se landbousektor, die moeite werd om te gaan kyk na al die verskillende landboupraktyke op die B2Gold-plaas. Dit sluit in die koring, mielies en groentes wat op die mynplaas verbou word.

Die minister het beklemtoon die produksiepraktyke wat op dié spesifieke plaas gebruik word, kan in die regering se groenskemas gerepliseer word om oeste te verbeter.

- [email protected]

Comments

Namibian Sun 2025-01-15

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!