Stamselle red lewens

Die verandering ná onderskeidelik ’n parkinsons-diagnose en jare se erge rugpyn was wesenlik.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Stamseloorplantings wat plaaslik gedoen is, het ’n egpaar van Windhoek se lewens binne enkele dae ten goede verander.

Vir beide Leon (51) en Riekie Kotze (51) was die verandering ná onderskeidelik ’n parkinsons-diagnose en jare se erge rugpyn wesenlik en sal hulle dit oorweeg om, indien nodig, dieselfde pad weer te volg.

Leon is in Mei 2017 op die ouderdom van 49 jaar met parkinsons gediagnoseer. In Februarie dieselfde jaar het sy smaaksintuig begin verdwyn nadat hy reeds vroeër sy reuksintuig verloor het. Sy linkerhand het met enige vorm van breinaktiwiteit begin bewe en met konsentrasie sou dit vererger. Leon se sig het boonop begin verswak en skielik sou hy deur die nag en later ook deur die dag begin kwyl.

Sy diagnose het soos ’n doodsvonnis gevoel en weke lank het hy gesukkel om dit te verwerk.

“Ek was ’n finansiële bestuurder by ’n lodge net suid van Otjiwarongo en ek mis vandag steeds my werk.”

Noodgedwonge moes hy en Riekie in Mei 2018 na Windhoek verhuis om nader aan dokters te wees. ’n Ligpunt is die feit dat Riekie ’n pos by ’n bank in die hoofstad kon kry waar sy vroeër gewerk het.

“Dít was ’n seën, want tydens die trek het die depressie my heeltemal ondergekry. Ek het in twee weke 13 kg verloor,” sê Leon.

Danksy die “Here se genade en krag” kon hy uit die put van depressie ontsnap, het hy die regte medikasie gekry en kon hy weer as konsultant ’n sinvolle bydrae tot die samelewing lewer. Nog ’n reddingsboei was sy klawerbord wat hy al sedert 1975 speel en weer afgestof het om sy musiektalent uit te leef.

“Dit het sedert my diagnose en ten spyte van die bewende hand geweldig verbeter!”

Op fisieke vlak moes Leon nou rus deel van sy daaglikse roetine maak en smiddae vir ’n halfuur of wat eers gaan skuinslê.

Leon en Riekie was besig om reëlings vir ’n breininplanting in Suid-Afrika te tref toe ’n vriend vir Leon van die stamselbehandeling vertel wat plaaslik deur dr. Tommy van Wyk gedoen word.

Ná ’n konsultasie het die egpaar besef dit sou ook in Riekie se geval vir haar jare lange rugprobleme kon werk en hulle het besluit om albei vir stamseloorplantings te gaan. Omdat mediese fondse volgens Leon dit as ’n verjongingskuur sien, moes die egpaar geld vir die prosedures leen.

Leon se stamseloorplating is op 27 Februarie vanjaar gedoen – ’n eenvoudige prosedure wat sowat drie ure geduur het.

“Die stamselle word onder jou vel aan die agterkant van jou heup geoes en dan behandel om die gesonde selle van die res te skei. Die gesonde selle word weer in jou lyf ‘teruggeplant’.”

In Leon se geval was 25% van die inplanting spinaal en die res binneaars.

Binne ’n week ná die stamseloorplanting het Leon se “bewerasies” snags begin verminder. Sy sig het verbeter en sy fiksheid het ’n hupstoot gekry.

“Ek het ondervind my liggaam herstel vinniger ná oefening as vroeër. Sedert April kon ek ook agterkom dit is makliker om die gebewe in my hand te beheer.”

Met sy verbeterde breinfunksie kon Leon leer om sy denke en emosies te beheer, wat weer ’n wesenlike invloed op die bewerigheid gehad het.

“Ek het ook danksy die oorplanting, medikasie en my musiek die seën ervaar dat my emosies nou baie mooi onder beheer is. Genadiglik kan ek nou ’n seën vir die mense om my wees.”

Leon se grootste uitdaging is dat mense hulle nie moet blindstaar teen sy parkinsons nie, maar eerder ’n mens met talente moet raaksien.

“Met die siekte het die Here ’n deel van my gesondheid geneem, maar in die plek daarvan vir my ’n baie beter gehalte lewe as tevore gegee.”

Volgens Leon was sy stamseloorplanting nie ’n eenmalige prosedure nie en vertraag en verlig dit net die simptome van die ongeneeslike siekte.

Hy hoop om dit jaarliks te kan doen en dat mediese fondse daarvoor sal begin betaal.

“Ek gaan die behandeling beslis weer laat doen sodra ons met die Here se seën die mediese fonds oortuig het om daartoe by te dra.”

Riekie het op haar beurt vir nege jaar met erge rugpyn gesukkel, wat deur ’n werwel in haar laerug veroorsaak is.

“Dit het geweldige pyn van my laerug af in my bene tot by my knieë veroorsaak. Die nagte was die ergste, want ek kon letterlik nie slaap nie,” vertel sy.

Die oorsaak van die pyn is deur ’n chiropraktisyn en ’n neurochirurg geïdentifiseer en vir jare sou verskeie pogings volg om die verlammende pyn te beheer.

Mens ondergaan ’n totale persoonlikheidsverandering as jy voortdurend pyn ervaar, sê Riekie.

“Jy bly moeg en geïrriteerd en voel soos ’n mislukking. Ek was bang om te gaan slaap, want dit het gevoel of ek op ’n oop senuwee lê.”

Riekie se stamseloorplanting is op 20 Februarie vanjaar gedoen en sy het van die tweede dag af bedags geen pyn gehad nie. Op dag vier het sy al haar pynmedikasie gelos en was dit die “saligste gevoel” om in die aand te gaan lê en te slaap.

“Ek het weer soos my ou self begin voel en het weer selfvertroue gehad.”

Vir Riekie was die oorplanting ’n eenmalige prosedure, maar indien dit weer gebeur dat ’n werwel pyn veroorsaak, sal dit beslis weer haar eerste opsie wees, sê sy.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-12-28

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!