African Meat Supplies bars uit sy nate

Lekker vleis teen die beste prys
Gerine Hoff
Catherine Sasman - Hoewel African Meat Supplies net noord van die rooilyn mag handel dryf, kan die eienaar, mnr. Ettiene Scholtz, spog met sy vleisfabriek en as verspreider van hoë gehalte produkte op ’n perseel wat binnekort aan die uitvoerstandaarde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) sal voldoen.
“Alles is nog nie 100% gereed vir moontlike uitvoere nie, maar ons beweeg in daardie rigting,” sê die bestuurder, mnr. Johannes Liebenberg.
African Meat Supplies wat sy fabriek en slaghuis vanaf ’n groot perseel in Oshakati bedryf, koop ook slagdiere by vendusies in die omgewing en by die plaaslike boeregemeenskap aan.
“Met die goedkeuring om ons eie abattoir op te rig, sal dit plaaslike aankope net meer bevorder,” sê Liebenberg.
Die vleismark in die noorde is tans erg geknou deur die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer, en daarom is African Meat Supplies genoodsaak om slegs aankope van karkasse en snitte by verskaffers soos Hartliefs, Meatco, Beefcor, Namaqua Meat en Brakwater-abattoir te doen.
Ten spyte hiervan verloop sake vlot.
Die maatskappy lewer ook diens aan plaaslike hospitale, gastehuise, restaurante, winkels vir wegneem-etes en informele besighede wat kapana op straat verkoop.
“Die belangrikste kliënt is ons plaaslike gemeenskappe, 'die man op die straat'. Ons kom al so ’n lang pad saam, ons voel soos familie!” sê Liebenberg. “Ons het goeie produkte wat teen die beste pryse moontlik verkoop word en ons strewe altyd na goeie kliëntediens.”
Die besigheid wat toenemend uitbrei, het sy nederige onstaan in 2000 in die ou “Tafelhaus”-gebou skuins oorkant die ou Fysal Fresh Produce gehad. Grootmaatvleis is aan spyseniers soos Nutrifood en Independence Caterers verskaf wat die vleisprodukte verder versprei het na skole, hospitale en die weermag.
Die publiek het egter toenemend aan hul deur begin klop en derhalwe is 'n kleinhandelslaghuis gevestig om vleis aan die publiek asook restaurante en lodges te verskaf.
“Ons het in daardie stadium nog nie eens ’n vertoonkas, kasregister of rekenaar gehad nie,” sê Liebenberg, wat ná meer as 25 jaar in die vleisbedryf steeds passievol daaroor is.
“My oorlede pa was in die vleisbedryf, so dis seker maar in my gene. Ek gebruik nou nog my pa se (geheime) resep vir ’n lekker boerewors. Mense het al aangedring dat ek moet inskryf vir die Shoprite-kompetisies, maar my seun moet dit erf,” vertel hy met entoesiasme.
Ná twee jaar het die Tafelhaus-gebou te klein geword, en in 2002 tot Januarie vanjaar het dit die ou ENOK Wholesale-gebou van die Ontwikkelingskorporasie (NDC) gehuur.
Omdat die besigheid nie vriesgeriewe gehad het nie, het dit in daardie stadium ’n gedeelte van die ou Oshakati Cold Storage by dr. Frans Indonga gehuur. Die maatskappy het eers in 2003 sy eie vrieskamer gebou.
Die nuwe perseel, wat aan Scholtz behoort en waar African Meat Supplies nou geleë is, is op ’n groot erf wat groot genoeg is om die fabriek en slaghuis asook ’n veilingsarea met krale te huisves.
By die verwerkingsaanleg word bees-, bok-, vark- en wildkarkasse verwerk. In spesiale kamers word Russians, Viennas, polonies, worse, biltong, droëwors en " chilli bites" gemaak en gestoor. Alle Russians, Viennas en worse word nog met natuurlike derms gemaak. Spesiale snitte vleis word vakuumverpak.
Koelkamers wat tjok-en-blok vol vleisprodukte is, strek oor 110 meter, en daar is stoorkamers vir vleisprodukte, speserye, verpakkingsmateriaal en skoonmaakmiddels. Hier verwerk die fabriek produkte met eie unieke geure, soos die gewilde African Russians. Daar is rokers om geurige Russians en Viennas te kook en rook.
African Meat Supplies dryf nie net handel uit Oshakati nie. Dit het verkoopspunte in Oshakati, Oshikango, Ondangwa en Outapi en beplan om na ander dorpe uit te brei.
’n Smousbussie wat elke dag die noordelike streek dek, voorsien produkte aan Eenhana, Etunda, Omuthiya, Tsandi, Onesi, Opuwo, Ongwalume en Okalongo.
Die groot deure van African Meat Supplies maak Saterdagmiddae toe. Maar Saterdae word altyd van vroegoggend wors gebraai en lekker saam met gereelde kliënte onder ’n skaduboom gekuier.

Comments

Namibian Sun 2024-11-23

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!