Rooilyn: NLU beoog inklusiewe landbougroei

‘Moenie internasionale aansien inboet’
Die NLU-president meen die regsuitspraak verskaf 'n raamwerk om te verseker dat Namibië se landboubeleide deur ingeligte besluitneming gedryf word.
Francoise Steynberg
Die Namibië Landbou-unie (NLU) aanvaar verlede Donderdag se hoërhofuitspraak rakende die veterinêre kordonheiningsaak as ’n geleentheid om vorentoe te beweeg met ’n verantwoordelike, langtermynstrategie vir inklusiewe landbougroei oraloor die land.

Dit volg nadat regter Shafimana Ueitele in die hoërhof in Windhoek ’n aansoek van die hand gewys het van die aktivis Job Amupanda wat ’n hofbevel gevra het vir die verwydering van die veterinêre kordonheining, bekend as die Rooilyn.

Ueitele het beslis dat Amupanda en sy regspan versuim het om voldoende bewyse te verskaf wat die beweerde diskriminasie wat deur die Rooilyn veroorsaak is, aandui.

Die regter het beslis dat hulle nie ’n lewensvatbare plan voorgelê het vir hoe die verspreiding van bek-en-klouseer beheer sou word indien die heining verwyder sou word nie.

Die regter het vroeër geweier om homself van die saak te onttrek, ondanks kommer oor ’n moontlike botsing van belange. Dit is aan die lig gebring dat Ueitele suid van die Rooilyn boer en ’n grondbelastingvrystelling van die voormalige minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, die eerste respondent in die saak, ontvang het.



APPELLEER

Die uitspraak is ’n groot terugslag vir Amupanda, wat al lank ’n veldtog teen die Rooilyn voer en aanvoer dat dit teen noordelike boere diskrimineer deur hul toegang tot winsgewende beesvleismarkte in die Suide te beperk. Hy het die uitspraak ’n “miskraam van geregtigheid” genoem en aangedui dat hy teen die beslissing in die hooggeregshof gaan appelleer.

Die NLU-president, Thinus Pretorius, het in ’n mediaverklaring gesê boere van beide die noordelike en suidelike streke van Namibië het vir dekades aansienlik bygedra tot die land se ekonomiese stabiliteit.

Hy sê die NLU beoog ’n toekoms waar alle Namibiese boere gelyke toegang tot ekonomiese geleenthede het.

“Die NLU beklemtoon egter dat die bereiking van hierdie oorgang noukeurige beplanning verg wat Namibië se swaarverdiende reputasie in globale markte beskerm,” sê Pretorius.



GESPREKKE EMOSIONEEL

“Terwyl gesprekke rondom landboubeleid dikwels emosioneel kan raak, bly die NLU daartoe verbind om te pleit vir besluite wat op feite en ekonomiese volhoubaarheid gegrond is.”

Pretorius meen die regsuitspraak verskaf ’n raamwerk om te verseker dat Namibië se landboubeleide deur ingeligte besluitneming gedryf word.

“Die NLU is daarop gefokus om ’n omgewing te kweek waar alle boere kan floreer sonder om ons internasionale aansien in te boet.”

Die NLU sê die organisasie is daartoe verbind om saam met alle belanghebbendes te werk om inklusiewe beleide te skep wat alle boerderygemeenskappe doeltreffend in die breër ekonomie integreer.

Die NLU bevestig dat ekonomiese inklusiwiteit nie net ’n doelwit is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir nasionale welvaart.

“Roekelose veranderinge wat deur korttermynsentiment aangedryf word, kan werkverskaffing, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit in gevaar stel.

“Soos Namibië vorentoe beweeg, ondersteun die NLU ons regering om voort te gaan om ingeligte besluite te neem wat die krag van die landbousektor handhaaf, wat werkskepping op die lang termyn verseker, stedelike migrasie bekamp, stabiele voedselproduksie en inklusiewe ekonomiese groei ondersteun.

“Die NLU is gereed om betrokke te raak en saam te werk met diverse belanghebbendes om ’n toekoms te bou waar elke Namibiese boer binne ’n verenigde, markgedrewe landbousektor kan floreer.

“Deur op verantwoordelike oplossings en inklusiewe groei te fokus, kan Namibië ’n lewendige en volhoubare landboulandskap vir geslagte lank verseker.”



STAANDE KOMITEE

Volgens die parlementêre staande komitee oor ekonomie en openbare administrasie moet die Rooilyn geherstruktureer word om boere in staat te stel om diere en vleisprodukte na markte suid van die Rooilyn te vervoer wanneer daar geen uitbrekings van bek-en-klouseer (FMD) is nie.

Wanneer die Nasionale Vergadering (NV) die voorstelle van ’n staande komitee met of sonder wysigings aanvaar, moet die entiteit of minister van landbou, visserye, water en grondhervorming binne ’n tydperk van drie maande hieraan voldoen.

Die eerste van die bevindinge was dat die Rooilyn ontwerp is om ’n minderheidsgroep tot nadeel van ander te bevoordeel.

Die komitee het die gevolge en beperkings van die Rooilyn op boere in die noordelike en noordoostelike dele van die land ondersoek.

Dit het gevolg ná ’n klagskrif deur die Lisha Empowerment and Development-organisasie wat ’n beroep doen op die herlewing van markte vir lewende hawe vir noordelike kommunale boere.

“Tans plaas verpligte kwarantynprosedures en die gebrek aan voldoende kwarantyngeriewe ’n onnodige las op boere, wat hul toegang tot markte beperk en hul lewensbestaan beïnvloed.

“In tye wanneer daar geen uitbreking is nie, moet beeste toegelaat word om vrylik rond te beweeg mits basiese sertifikate of onlangse ondersoeke deur ’n veearts verkry word.

“Dit moet gepaard gaan met ’n robuuste opsporingstelsel en tydelike beheerpunte vir gesondheid langs sleutelroetes om te monitor vir enige tekens van bek-en-klouseer soos suid van die kordonheining gedoen word,” lui die verslag.

Die komitee het ná besoeke aan die geraakte streke ’n beroep op die regering gedoen om met hul Zambiese eweknieë te onderhandel om sy grense oop te stel vir die handel in beeste met Namibiese boere in daardie streek.

Volgens die verslag is daar meer as 2,5 miljoen beeste noord van die Rooilyn, terwyl daar suid daarvan 1,3 miljoen beeste is.

Die voorstel is dat ’n fisiese grensbeweging gevestig word, aangesien die uitvoer van beeste uit die gebiede noord van die Rooilyn beperk word.

’n Alternatief sou wees om noordelike kommunale gebiede in siektevrye dele te soneer. Volgens die komitee het die regering onlangs marktoegang tot Katar, Angola, die Demokratiese Republiek die Kongo, asook Ghana verseker.

Uitdagings volgens die komitee is swak en wanbestuur, onvoldoende instandhouding van belangrike staatseiendom en infrastruktuur soos kwarantynplase, -kampe en -geriewe, veilingshuise en abattoirs.

Veeartsenydiensbeamptes het ook kommer uitgespreek oor die poreuse grens tussen Namibië en Angola wat ’n risiko vir vee inhou, aangesien beeste met ander diere meng wat nie ingeënt is nie.

“Ander swakpunte en uitdagings sluit in lae winsgewendheid weens die gebrek aan toegang tot winsgewende markte vir vee,” lui die verslag.

Volgens die komitee sal die kanaal wat tussen die twee lande gebou gaan word, help om die beweging van vee te beheer.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2025-04-02

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment