Die nuwe klaskaptein

Mercedes se C-klas
Dirk Gallowitz
Dirk GallowitzV ir baie jare lank was die C-klas die brood en botter van Mercedes as dit by verkope kom. Deesdae is die gier wêreldwyd egter om die rug te draai op sedanmotors en liefs ’n sportsnuts aan te skaf.

Die gevolgtrekking is dus om te wonder of die C-klas enigsins nog relevant sou wees.

Mercedes maak dit egter duidelik dat die C-klas steeds die grootste persentasie van sy totale verkope in Suider-Afrika uitmaak (40%) en derhalwe ’n belangrike rol speel in hul aanslag om wêreldwyd die septer as topverkoper te swaai.

Die 2022 C-klas lyk op die oog af nie drasties anders as die uitgaande model nie. Effe meer hoekig hier, sterk aksentlyn daar en soepeler rondings op die regte plekke en siedaar, die nuwe C-klas!

Die flanke bult meer aggressief oor die agterwiele en die enjinkap se twee plooie is nou standaard, waar dit voorheen net by die warm AMG-modelle te siene was.

Nuwe lighulsontwerpe vir die agter- en voorligte asook ’n luikrug-agtige daklyn wat ver na agter strek en die stert effe stomp laat eindig, dra in geheel by tot ’n voorkoms wat meer klassiek-statig en effe groter vertoon.

Mercedes SA het die nuweling in twee basiese modelle, die C200 en C220d, bekendgestel wat in twee afwerkingsvlakke beskikbaar is, naamlik die Avantgarde en die topvlalk AMG-Line. Die Avantgarde is wêreldwyd eintlik die middelvlakmodel, maar daar is besluit om die Elegance-intreemodel in Europa agter te laat en die beter toegeruste Avantgarde as ons plaaslike intreemodel te bemark.

Beide modelle is standaard toegerus met agterwiel-stuur om hantering tydens bestuur meer dinamies te maak en ook parkering te vergemaklik.

Ons kon beide modelle tydens die bekendstelling bestuur. Die rit is uiters gesofistikeerd en sag op die teerpad en die kajuit heerlik geïsoleerd teen wind- en padgeraas.

Greep en paddinamika het beïndruk deur Du Toitskloofpas in die Boland. Versnelling en remming tydens blitslopies het verstom, gegewe die enjingrootte, terwyl ons beide “Comfort” en “Sport” ritmodusse beproef het.

Super luuks

Ons gunsteling is egter die C220d, veral vir die seepgladde verrigting wanneer uit lae spoed versnel moet word en grootliks te danke aan die 440 Nm wringkrag.

Ook brandstofverbruik op die diesel het verstom. Na afloop van ons toetsrit van nagenoeg 200 km wat oop pad, bergpasse en stadsverkeer ingesluit het, was ons gemiddelde verbruik steeds 5,5 liter per 100 km. Die nuwe C-klas word van sy mededingers onderskei deur uiters hoë vlakke van luuksheid en toerusting wat standaard by die prys ingesluit word. Binne is die kajuit nou effe ruimer met meer spasie vir die agterste insittendes se knieë.

Met hierdie nuweling het die witjasse in Stuttgart omtrent probeer beïndruk, want sowat van tegnologie in hierdie segment is min te sien. Dit voel skoon asof jy jou skootrekenaar bestuur.

Die voorpaneel word gedomineer deur die grootste raakskerm in sy segment, wat skuins laag voor in die middel van die voorpaneel geplaas is. Die skerm is treffend en indrukwekkend, maar dalk effe in die pad.

Alle klank- en kommunikasiefunksies kan hier beheer word, asook koppeling via Apple­CarPlay en AndroidAuto funksionaliteit. Die meeste daarvan met Mercedes se MBUX interaktiewe stemopdragstelsel wat begin deur “Hei, Mercedes” te sê, waarna die stelsel met jou begin “gesels”!

Na gelang van verskeie opsionele ekstras kan kopers ’n hele rits innoverende veiligheidstelsels en bestuurderhulpstelsels in die nuwe C-klas kies, soos die stelsel waar rit-inligting op die voorruit voor die bestuurder vertoon word.

Die segment vir passasiersedans is aan’t uitsterf, maar die Mercedes C-klas en sy direkte mededingers uit Duitsland, die Audi A4 en BMW 3-reeks, hou steeds die fort.

Met die nuwe 2022 model neem Mercedes se C-klas nou die leisels oor as kaptein.

Comments

Namibian Sun 2024-11-23

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!